Geeneen sal ons help nie

Die geskiedenis het veel lesse waaruit ons volk kan leer, en die afgelope tyd se gruwelike gebeure in Suid-Soedan, waar meer as ’n miljoen kinders die land uit moes vlug, is ’n goeie les wat ons van moet kennis neem.

Die Suid-Soedanse burgeroorlog het bykans twee miljoen inwoners, waarvan 62% kinders is, gedwing om uit die land te vlug vir hulle veiligheid.

Die vlugtelinge het wel daarmee die geweld vrygespring, maar nou sit hulle sonder enige hulp, in vier ander Afrika lande waar die infrastruktuur sodanig is dat hulle van honger en siektes gaan omkom as die Verenigde Nasies nie finansiële hulp verleen nie.

As dit dan is hoe die wêreld staan en toekyk oor die ellende van daardie Afrikaland se mense, waarom sal enige een omgee vir die paar miljoen volksgenote aan die Suidpunt van Afrika?

Die moontlikheid dat die heersende diskriminasie en die “onopmerklike  volksmoord” gestop sal word deur die ingryping vanaf die buiteland, is wensdenkery.

Die Boere-Afrikaner sal eie veiligheid, sy eie toekoms en sy eie alles moet vestig as hy wil voortbestaan.

Daardie voorbestaan beteken egter meer as net die drie elemente, want dit begin deur die leë wiegie in ons volk weer met babatjies te vul om die dalende getalle teen te werk.

Daarmee saam moet die ekonomiese groei van volksgenote versterk word deur deelname aan volksekonomie wat binne die bestaande bestel uitgebou word, wat werkskeppend ons volk bemagtig in eie ondernemings.

Voortvloeiend uit hierdie ekonomiese groei behoort volkseie skole, kolleges, tegnikon en universiteit gevestig te word om die tegnologiese vermoë van ons volk maksimaal te benut.

As die volk steier teen hierdie uitdaging, is algehele ondergang ons voorland, want geeneen buite die volk sal ons wil help nie.

Frik Stander