Die hennaboom / mignonette tree / Egiptiese privet boom

Die Hennaboom is ‘n boom in die familie Lythraceae, die genus is Lawsonia, die spesie is L. Inermis en die orde is Myrtales.  Die naam “henna” is afgelei van ‘n Arabiese woord.  Henna is ‘n groot struik of klein boom wat 1,8 meter tot 7.6 meter hoog word.

Henna verwys ook na ‘n kleurstof of “ink” wat gebruik word om tydelike tekeninge op die vel te maak. Dit word van die ou tye af gebruik om hare, vingernaels, vel en ook materiaal soos sy, wol en leer te kleur. Henna word ook in sekere sjampoes gebruik en daar word beweer dat dit ons hare bietjie donkerder laat skyn.

Hierdie  struik het digte takke en spiesvormige blare. Die blare word 1,5 cm tot 5 cm lank. Hennabome dra wel blomme wat 4 skerp gevormde blare het. Die blomblare is wit of rooi en is reguit en dun gevormde blare wat lyk of dit opgerol is.  Nadat die blomme doodgegaan het verskyn die saad. Dit is smal en bruinkleurige kapsules wat 4 tot 8 mm in deursnee is. Daar is tussen 32 – 49 sade in hierdie saadkapsule. Wanneer die saad ryp is, bars hulle oop in 4 dele en so versprei die saad dan.

Die varsgeplukte blare van hierdie struik sal nie die vel verkleur nie. Gedroogde blare sal die vel wel kleur. Die droë blare moet fyngemaak word om ‘n pasta te vorm waarmee die vel gekleur kan word. Wanneer dit op die vel geplaas word, bind dit met die proteïne en laat die vel dan vinnig verkleur. Henna word gebruik in die Asiatiese tradisionele feeste om die vrouens se lywe mooi te maak en die tekeninge word op die voorkoppe, arms, hande, bene en voete gemaak.

Henna word gewoonlik in poeiervorm verkry. Hierdie poeier word dan met water, suurlemoensap of sterk swart tee gemeng om ‘n pasta te vorm. Daar is ook kunstenaars wat suiker of molasse gebruik om die pasta te maak wat die vel langer verkleur sal hou. Die hennapasta moet vir 1 tot 48 uur staan om te trek alvorens tekeninge op die vel gemaak word. Wanneer die henna tekeninge op die vel gedoen word, is dit vir ‘n rukkie baie lig van kleur maar hoe langer die henna op die vel bly hoe donkerder word dit.  Die kunstenaars wat die tekeninge op die vel maak, smeer gewoonlik ‘n mengsel van suiker en suurlemoen wat gemeng is oor die tekening  Dit word vir ‘n hele rukkie so gelaat en dan word die droë suikermengsel eenvoudig afgeborsel en daar is die donker tekening.

Wees versigtig vir hennakleursel, want dit kan gevaarlik wees vir mense met glukose probleme. Indien u dit op die vel wil gebruik toets eers ‘n klein area op die vel vir ingeval dit ‘n irritasie veroorsaak, en indien die vel wel begin jeuk, was dit liewer dadelik af.

Tuiniers, geniet u tuin tot volgende keer.