Demokrate eis ontslag van Trump se skoonseun

Jared Kushner, die skoonseun en adviseur van president Donald Trump het glo in Desember verlede jaar kontak gemaak met die Russiese ambassadeur in Washington.

Kushner het blykbaar die ambassadeur gevra om ’n geheime kanaal te skep met die Kremlin wat nie afgeluister sal word deur die intelligensiedienste nie.

Die inligting is gepubliseer deur die Amerikaanse koerant, Washington Post, wat die Demokratiese Party dadelik laat eis het dat Jared Kushner bedank of deur die president afgedank moet word.

Die Russiese ambassadeur, Sergej Kislyak, het glo gemeld dat Kushner as die nuwe raadgewer oor buitelandse sake, gevra het vir ’n geheime kommunikasielyn met die Kremlin.

Kushner het ’n ontmoeting met die ambassadeur gehad in die Trump Tower gebou in New York gedurende Desember, aldus die koerantberig.

Volgens die Washington Post was ambassadeur Kislyak redelik verbaas dat so ’n versoek tot hom gerig word aangesien dit bepaalde risiko’s inhou vir die ambassadeur sowel as vir die Trump-verkiesingspan.

Die Demokratiese Party het in ’n verklaring gesê die president het geen ander keuse as om Jared Kushner te ontslaan nie.

Foto – Jared Kushner