Boeremag gevangene kry doktorsgraad

Dit gebeur selde dat gevangenes ‘n doktorsgraad behaal deur studie in die tronk, maar dit is presies wat gebeur het met die 39-jarige Wilhelm Pretorius, wat tans 25 jaar tronkstraf uitdien in verband met die sogenaamde Boeremag saak.

Pretorius se besondere prestasie is egter vertroebel deur die Departement van Korrektiewe Dienste (DKD) se weiering dat hy die gradeplegtigheid by die Universiteit van Pretoria bywoon, en nadat hulle skynbaar ook omgeswaai het toe ‘n private gradeplegtigheid in die tronk vir Pretorius gehou sou word.

Alle reëlings was skynbaar in plek, maar toe familie en naasbestaandes by die tronk opdaag, moes hulle onverrigtersake omdraai. DKD ontken nou dat daar so ‘n reëling was.

Pretorius het sy doktorsgraad in Kerkgeskiedenis behaal en sy proefskrif handel oor: “ ’n Kerkhistoriese ondersoek na die ontwikkeling van die kalendriese aspekte van Paasfees binne die Christendom in die eerste drie eeue n.C.” In 2008 het hy sy meestersgraad ook in aanhouding verwerf.

Intussen is die organisasie Boervin in die lewe geroep en beywer hom vir die vrylating van Boere politieke gevangenes, waaronder die Boeremaglede.