Bergmagrietjie / Ursinia sericea

Wat ‘n pragtige dekoratiewe plant is dit net nie hierdie nie? Dit is omtrent droommooi en groei baie goed in gebiede waar fynbos aard. Die Bergmagriet is in die familie Asteraceae. Dit word ook die “silver lace-leaf” of “geelmagriet genoem. Dit is nie ‘n bedreigde spesie nie. ‘n Duitse dokter en botanis, Joseph Gaertner, het hierdie plant gedoop as die “bergmagrietjie” en die spesie naam “sericea beten “satyn”.

Die silwer kantagtige blare vertoon regtig pragtig tussen ander plante wanneer dit voor in die bedding as ‘n randplant geplant word met hooggroeiende struike aan die agterkant. Bergmagrietjies is meerjarige plante en sal vir jare aanhou groei. Hierdie is nogal ‘n geharde plant en word 200 tot 500 mm hoog. Die blare is harig en getand en baie fyn, soos kant. Dit lyk omtrent soos kant of veertjies.

Bergmagrietjies dra helder geel blomme wat nes ‘n magrietjie lyk. Die knoppe is wit, maar sodra die blomme oopgaan is dit sonskyngeel met ‘n wit kop. Die blomme word 20 tot 50 mm in deursnee en die blare is langwerpig en sag. Blommetjies kom op die bopunt van die stingels uit. Die stingels van hierdie plante is lank en dun met fyn blare wat dig groei vanuit die stam in die grond. Bergmagrietjies blom vanaf September tot Februarie en hulle blom oorvloedig. Die geel blommetjies vertoon mooi op die vaal stingels en blaartjies. Die saad is lig in gewig en het ‘n papieragtige voorkoms soos skubbe op die punte, dit word deur die wind gewaai en versprei dan en word ook so voortgeplant.

Daar is 40 verskillende spesies in Suid Afrika. Hulle groeivorms verskil ook van mekaar. Party is dwergplante. Dit groei baie mooi op sandsteen grond. Oes die saad in die herfs of maak steggies gedurende die warmer maande. Plant in goed gedreineerde sanderige leem grond. Die steggies sal binne 14 dae wortels vorm. Gee die plante gereeld genoeg water, maar wees versigtig dat dit nie in te veel water staan vir lang tydperke nie. Dit sal die onderste gedeeltes laat verrot en die fyn blaartjies en stingels sal swart word. Plante moet in volson geplant word.

Tuiniers, hierdie plante sal enige pragtige groen tuin ophelder met kleure van vaal tot geel. Die dwergtipes kan as grondbedekker dien en die groter tipes kan in potte ook geplant word. Die bergmagrietjies lok heuningbye en skoenlappers na die tuin.

Geniet u tuin tot volgende keer.