Zuma kry protesoptogte as verjaardaggeskenk

Die ANC staatshoof, Jacob Zuma vier vandag sy 75ste verjaardag, en die grootste geskenk wat enige staatshoof seker kan kry is om daarvoor die mense in die straat te kry.

Dit gebeur inderdaad, maar nie met die doel om hom geluk te wens nie, maar om hom te vertel dat hy sy goed moet vat en loop as staatshoof.

Verskeie protesoptogte word teen Zuma beplan nadat sy optrede die land ernstige skade aangedoen het verlede week.

Waarnemers glo egter nie dat Zuma hom veel aan die optogte sal steur nie. Hy het die ondersteuning van die ANC, wat uiteindelik bepaal wie is president.  Self sal Zuma nie bedank nie, want dan verloor hy sy immuniteit, wat kan beteken dat die talle korrupsieklagtes teen hom wat tans op ys is, kan voortgaan en beteken dat hy sy laaste lewensjare in die tronk kan deurbring, terwyl hy nog aspirasies het om burgemeester van Nkandla te word.

Een van die partye wat die optogte teen Zuma steun, is VF+, maar sê die optogte moet effektief wees.

Die party se leier, dr. Pieter Groenewald, sê egter daar moet daarteen gewaak word dat te veel optogte nie hul trefkrag verloor nie.

“Optogte wat spontaan vanuit die burgery ontstaan en plaasvind, dra ook veel meer gewig as wanneer politieke partye optogte reël aangesien die ANC aksies wat deur politieke partye gereël is, as blote politiekery sal beskou en dit so sal afmaak.

“Wanneer die burgery egter spontaan in opstand kom, sal die ANC-regering dit nie so maklik as onbenullig kan afmaak nie en sal hy kennis moet neem van die probleem.

“Die VF Plus doen daarom ook ʼn beroep op veral kerk- en geestelike leiers om leiding te neem waar die morele verval in die ANC sterk aangespreek moet word,” sê dr. Groenewald.