VSA stop betaling van VN gesinsbeplanning

Die Amerikaanse regering het die finansiering van die Verenigde Nasies(VN) se Populasie Fonds gestaak wat miljoene dollar spandeer aan gesinsbeplanning in agtergeblewe lande.

Die VN se Agentskap vir Gesinsbeplanning is in meer as 150 lande van die wêreld ontplooi om die aanwas te probeer beperk.

Die Trump-administrasie het die maatreël ingestel na die president in sy verkiesingsveldtog belowe het om na die soort uitgawes te kyk en te besnoei waar moontlik.

Die Amerikaanse ministerie van buitelandse sake het verklaar dat die maatreël ook ingestel is aangesien die VN “dwangmatige aborsies ondersteun asook gedwonge sterilisasie”.

Die Verenigde Nasies het in reaksie op die besluit gesê hulle “betreur die besluit van Amerika”, en beklemtoon dat geen wet oortree word deur die VN nie.

Amerika moes vanjaar $32 miljoen bydra tot die Fonds, wat nou bespaar word as eerste konkrete geval om bydraes aan internasionale organisasies te verminder.

Die VN woordvoerder sê dat duisende vroue se lewens gered is verlede jaar tydens swangerskap of bevallings, en kon ongewenste swangerskap en onveilige aborsies verhoed word.