Vryheid word bandeloosheid

Vandag word landwyd die oorgawe van FW de Klerk aan die ANC herdenk, onder die vaandel van Vryheidsdag, wat in die lig van onlangse gebeure eerder bekend kan staan as Bandeloosheidsdag. Die sogenaamde vryheid van 1994 het ontaard in bandeloosheid, waarteen wetstoepassers soos die polisie skynbaar magteloos is.

Daar word verwag dat die dag weer gebruik gaan word vir die ANC en Kommuniste se politieke retoriek, met die nodige direkte aanvalle op die blankes van die land.

Die leier van VF Plus, dr. Pieter Groenewald, beskuldig die ANC-regering daarvan dat hy deur onderdrukkende rassewette en kwetsende uitsprake ʼn nuwe verdrukking geskep waaronder wit mense van die land nie vry kan wees nie.

Hy het daarop gewys dat die land se grondwet se aanhef lui dat Suid-Afrika aan almal wat daarin woon behoort, en dat diegene wat hul beywer het om die land op te bou en te ontwikkel, gerespekteer moet word.  “Dit is die teorie van die Grondwet, maar in die praktyk word daar nie erkenning gegee aan almal nie deurdat die regerende ANC by monde van president Jacob Zuma die wit mense van Suid-Afrika beskuldig dat alles wat verkeerd gaan hulle skuld is.

“Hy verkwalik die wittes vir die swak ekonomiese groei, vir werkloosheid en vir ongelykheid weens sogenaamde wit monopolie-kapitaal. Die retoriek dat wittes die land se grond gesteel het en dat dit daarom sonder vergoeding genasionaliseer moet word, is niks anders as ʼn aanslag teen wittes nie.

“Almal in Suid-Afrika moet gelyk erken en behandel word, maar tans word daar teen wittes en veral die wit jeug gediskrimineer deur regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging.  Jong mense sukkel om beurse te kry en word beperk om toelating te kry tot mediese studies ten spyte van goeie akademiese prestasies, bloot op grond van hul velkleur.

“Die Grondwet het gewis nie vryheid vir almal in Suid-Afrika gebring nie,” sê dr. Groenewald.

Foto: Die dag waarop vryheid bandeloosheid geword het