VN veroordeel Noord-Korea se kernprogram

Die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies het ’n kompromie aangegaan met Rusland, en toe ’n afgewaterde resolusie aanvaar wat Noord-Korea se kernwapen program veroordeel.

In die resolusie wat Noord-Korea se missiel ontwikkeling veroordeel, word die land ook gedreig met strenger sanksies.

Alhoewel die resolusie ook inhoudelik so bewoord is dat Noord-Korea nie moet voortgaan met die toetse en ontwikkeling van atoombomme nie, blyk dit soos water van ’n eend se rug af te vloei.

Die resolusie is aanvaar nadat Rusland sekere wysigings voorgestel het, dat Pyongyang slegs vermaan word dat “sy program in ’n hoë mate destabiliserend is” en word die regering opgeroep om “geen ander atoomtoets uit te voer nie”.

Die resolusie wys ook daarop dat die onwettige ontwikkeling van kernkrag en ballistiese missiele deur Noord-Korea spanning in die streek en selfs buite die streek veroorsaak.

Indien die kommunistiese staat nie sy program staak nie, dreig die Veiligheidsraad met “omvangryke maatreëls, waarby inbegrepe is die uitbreiding van sanksies”.