Venezuela vrees VSA inmenging

President Nicolas Maduro van Venezuela het die afgelope naweek in ’n TV onderhoud sy vrees uitgespreek oor moontlike Amerikaanse toetrede tot sy land se onrus.

Hy sê Venezuela voel bedreig deur die aggressiewe en dreigende houding van die ekstreme afdeling in Amerika.

Maduro sê die radikale elemente in die Amerikaanse Pentagon se bevelvoerders wat in die suide van Amerika diens doen as militariste, asook die ministerie van buitelandse sake het planne om in te meng in sy land.

Hy het glo verwys na die optrede van Amerika teen die regering van Sirië met die aanval op ’n lugmagbasis, en gesê iets soortgelyk kan in sy land toegepas word.

Voorheen het die diktator ander lande daarvan beskuldig dat hulle ’n ekonomiese oorlog teen sy land voer om daarmee die skuld vir die swak toestande van homself weg te hou.

Venezuela beleef ’n stormagtige politieke tydperk weens die ekonomiese insinking wat die land beleef terwyl voedsel en medikasie tekorte lei tot ernstige onrus onder die bevolking.

Die president se poging om die invloedryke en belowende opposisieleier, Henrique Capriles, uit te skakel deur hom te verbied om die volgende 15 jaar aan verkiesings deel te neem, het die kiesers woedend die strate laat invaar met massa betogings.

Foto – President Nicolas Maduro