Venezuela sink in chaos

Venezuela is in chaos gedompel met derduisende betogers wat hulle ontevredenheid in die strate toon, en wat gelei het tot die dood van 24 mense volgens die Menseregte Kommissaris.

William Saab sê die jongste voorval was in die stad Merida waar ’n werknemer van die plaaslike administrasie doodgeskiet is en minstens ses mense gewond en beseer is.

Te midde van erge geweld is die protesoptogte eerder aan die toeneem en waarnemers sê dit wil lyk of die gewelddadigheid ook vererger.

Regoor die land is honderde duisende ontevrede mense aan die opmars en al meer optoggangers sluit aan by die protes aksies.

’n Reuse optog in Karakas het vreedsaam begin, met plakkate en slagspreuke waarop geëis word dat ’n verkiesing gehou moet word, en leiers van die opposisie party raak ongeduldig oor die klaarblyklike ongeërgdheid van die president en sy regering.

Die opposisie maak beswaar teen die finansiële ineenstorting wat ondervind word, en eis ’n vrye verkiesing, die vrylating van talle politici wat in tronke opgesluit is, en vra dat respek getoon moet word vir die land se parlement, terwyl doelgerigte optrede gevolg moet word om voedselvoorsiening aan te spreek wat tans ’n haglike toestand veroorsaak weens die grootskaalse tekorte.

Die stryd van opposisie partye om president Nicolás Maduro te beweeg om sy bedanking in te dien en ’n verkiesing uit te skryf, het tot hede geen indruk gemaak op die president nie.

Opposisie partye hoop dat verwydering tussen die weermag en die regering sal ontstaan wat die president kan verplig om ’n verkiesing te hou.