Trump vra fondse vir grensmuur

Die Amerikaanse president, Donald Trump, het geen alternatief as om ’n vooraf finansiering in te werk by die land se begroting vir die grensmuur wat opgerig gaan word tussen Amerika en Meksiko nie.

Die Trump-administrasie het geen ander uitkoms as om die bedrag wat benodig word, in te werk in die begroting nie, aangesien Meksiko herhaaldelik gesê het dat hulle nie bereid is om daarvoor te betaal nie.

President Trump sê alhoewel Amerika aanvanklik vir die grensheining betaal, sal Meksiko uiteindelik daarvoor moet opdok, en sal maatreëls daarvoor geskep en later toegepas word.

Die Amerikaanse Kongres moet teen eerskomende Vrydag die land se begroting goedkeur, en alhoewel die Republikeinse Party ’n sterk meerderheid het in die Kongres, is al die afgevaardigdes nie noodwendig ten gunste van die muur wat opgerig sal word nie.

Die linkse Demokrate is sterk gekant teen die oprigting van die muur wat uit Amerikaanse geld befonds word, en wil dit teenstaan dat die oprigting in die begroting vervat word.