Trump gaan VSA handelstekort beëindig

Die Amerikaanse president, Donald Trump, is vasbeslote om die “onreëlmatige” handel te stop om daarmee die nadelige handelstekort om te sit in ’n voordelige balans.

Die president het ’n veldtog van stapel gestuur om die lande te identifiseer wat goedere ten duurste verkoop aan Amerika, en Amerikaanse goedere aankoop teen onrealisties lae pryse.

Waarnemers meen die president se waarskuwing is veral gerig teen Duitsland en Sjina wat “misbruik maak” van die VSA se tariewe.

Met Sjina se president wat volgende week besoek bring aan die Winter Wit Huis van president Trump, is die boodskap waarskynlik betyds gerig aan die Sjinese regering.

Die Obama regering het toegelaat dat die VSA jaarliks ’n handelstekort van meer as $500 miljard toon, en president Trump is vasbeslote om die handelsvoordele wat ander lande geniet, om te skakel.

Die minister van handel het opdrag gekry om elke land, en elke produk se handelstransaksie na te gaan en ’n verslag aan president Trump voor te lê binne die volgende 90 dae.

Die minister sê daar sal noukeurig gelet word op moontlike kullery wat aan die orde kan wees ten koste van Amerika, en bygevoeg dat dit onnodig is om te meld dat Sjina die grootste sondebok is, maar dat ander lande soos Japan, Duitsland en Meksiko ook intensief nagegaan sal word.