Trump besoek Sjina later vanjaar

 

Die Sjinese president, Xi Jinping, het tydens sy tweedaagse besoek by die Amerikaanse president, Donald Trump, ’n uitnodiging gerig aan die Amerikaner om Sjina later vanjaar te besoek.

Die Sjinese media het gehoop op ’n dinamiese optrede van hulle president wat sy Amerikaanse eweknie sou tem tot ander insigte oor Sjina, maar die Amerikaanse optrede in Sirië met die afvuur van 59 kruisermissiele op ’n Siriese lugmagbasis het die nuus oorheers.

Sjinese koerante het met groot opskrifte en foto’s van die twee leiers op die voorblad, probeer om die klimaat te verander, maar het telkens self verval in beriggewing oor die Siriese gebeure.

Van die koerante het probeer om die ontmoeting tussen die twee leiers te beskryf as ’n “nuwe tydvak” in verhoudinge tussen Sjina en Amerika.

Volgens koerantberigte het die Amerikaanse president die uitnodiging “met graagte aanvaar en sal dit op die vroegste moontlike datum nakom”.

In ’n mediaverklaring sê die twee leiers dat vrugbare gesprekke gevoer is oor Noord-Korea, die Sjinese Suidsee se kunsmatige eilande, die Internet sekuriteite en moontlike uitbreiding in handel.

Die ontmoeting staan in skrille kontras met president Donald Trump se vroeëre opmerking dat “Sjina ’n vyand van Amerika is”.

Foto – Xi Jinping