Treurmoerbeiboom / Morus alba

Die Treurmoerbeiboom is ‘n medium tot klein boompie of struik en groei vinnig. Dit is in die familie Moraceae en die spesie is Morus. Natuurlik is hulle familie van die gewone moerbeiboom. Die Treurmoerbeiboom is inheems van China, maar word al oral in die wêreld aangetref.

Sommige van hulle word 10 meter hoog, maar gewoonlik is hulle aansienlik kleiner. Treurmoerbeibome word nie vreeslik oud nie, maar sal vir ‘n paar jaar baie mooi in die tuin vertoon. Die takke groei dig opmekaar en hang na onder soos ‘n wilgerboom se takke. Dit lyk soos ‘n sambreel wanneer dit nog ‘n jong boom is.

Die blare groei ook dig en word tot 30 cm lank en is ook gevorm soos ‘n gewone moerbeiboom se blare. Hoe ouer die boom word, hoe groter word die blare. Dit dra vroulike en manlike blommetjies aan verskillende bome. In meeste gevalle is die vruggies baie klein, tussen 1 tot 1,5 cm lank. In die natuur is die vruggies donkerpers, maar in ons tuine is hul meestal wit tot pienk maar u sal darem ‘n pers moerbeitjie so hier en daar te sien kry. Dit is nie so smaakvol en soet soos die gewone moerbeie nie. Voëltjies kan hierdie vruggies nie weerstaan nie.

Treurmoerbeiblare word ook gebruik as voedsel vir sywurms. In China plant hulle landerye van hierdie bome om die sywurms te voed. Meestal word dit in ander wêrelddele aangeplant as ornamentele plante. Diere is baie lief vir die blare van die bome.

Die vruggies word gebruik om wyn mee te maak. In China maak hulle tradisionele medisyne daarvan en glo dat dit help om jou hare mee af te spoel dan sal jy nie so vinnig grys word nie. Dit is blykbaar ook goed vir mense met diabetes. Daar is ook ander lande wat hierdie blare, vruggies en selfs die boombas gebruik in die vervaardiging van medisyne.

Plant gerus hierdie boompie aan in u tuin. Dit vertoon baie mooi op ‘n groen grasperk en lok sommer voëls na die tuin.

Geniet u tuin tot volgende keer.