Tien Russe sterf weens ontploffing in trein

Tien passasiers het omgekom in ’n bomontploffing wat geplant is in ’n Russiese moltrein in Sint Petersburg, die tweede grootste stad in die land.

Benewens die tien mense wat gedood is, het sowat 50 mense ernstige beserings opgedoen, en president Vladimir Poetin het in ’n verklaring sy meegevoel betuig met die mense se verlies.

Hy het die versekering gegee dat ’n volledige ondersoek na die voorval gedoen sal word om die skuldiges vas te trek.

Onbevestigde berigte lui dat die skrapnel ook spykers bevat het om die ontploffing se vernietigende uitwerking te verhoog.

Dit is onseker wie die verantwoordelike persoon of instansie is, maar die vermoede bestaan dat dit ’n aanslag van Al-Kaïda of die Islamitiese Staat is in weerwraak op die Russiese lugaanvalle wat vernietigend was in Sirië.

Geeneen van die terroristebewegings het tot hede verantwoordelikheid aanvaar vir die gruweldaad nie, maar deskundiges wys daarop dat die eerste waarnemings toon dat dit nie ’n terroristebeweging se werkmetode is nie.

Die Russiese polisie op soek na twee moontlike verdagtes, en veiligheid deskundiges kon daarin slaag om ’n tweede bom onskadelik te maak.

Meer as 7 000 mense het die afgelope jaar uit die land vertrek na Sirië, en later weer teruggekeer na Rusland, wat die moontlikheid verhoog dat dit ’n soortgelyke optrede kan wees as wat in Europa toegepas is.