Tamaryn / Suurdadelboom / Tamarind

Daar is seker nie baie van ons Suid Afrikaners wat hierdie boom ken nie en dat dit peule dra wat in kookkuns gebruik word nie. Tamaryn is ‘n peuldraende boom in die familie Fabaceae en is inheems in tropiese Afrika. Die spesie is Tamarindus  en daar is net hierdie een spesie. Die naam “Tamarind” kom van die Arabiese naam “tamar hindi”. In Latyn staan dit bekend as “tamarandi” en Marco Polo het daaroor geskryf

Die Tamarynboom is ‘n groot, immergroen boom wat tot 18 meter hoog kan word. Tamarynbome word baie oud. Dit moet in volson en klei-, leem-, sanderige grond,  en ook suurgrond geplant word. Hierdie boom is ook droogtebestand en sal ook goed groei by die see.  Dit is ‘n ornamentele boom by uitstek.

Dit takke is oortrek met fyn, varingagtige blaartjies. Die blare is heldergroen en omtrent 5 cm lank. Die takke hang na onder en groei almal uit die hoofstam van die boom. Tamarynbome moet gereeld gesnoei word om die groei en digtheid van die takke te help. Nog ‘n eienskap is dat die blaartjies in die aand “toemaak”.

Tamarynbome dra ook blomblare is ook langwerpig en yl en dit is geel met oranje en rooi strepe. Die blomme dra 5 blare wat 2,5 cm wyd is. Wanneer die blomknoppe verskyn is hulle pienk en lyk soos neute. Die blomme kom voor aan kort takkies wat aan die takke van die bome hang.

Na die blomme kom die vrugte in die vorm van peule met pitte in. Dit word gebruik in allerhande disse. Die peul word tot 15 cm lank en dra ‘n ry pitte wat amper soos grondbone of groot granaatpitte lyk, maar is bruin in kleur. Tamarynpitte is vlesig en sappig. Dit is ryp wanneer die vlies bruin of rooibruin is en hulle is blink. Die vrugte het ‘n soetsuur smaak en is hoog in suur, suiker en bevat vitamine B asook kalsium. ‘n Gewone Tamarynboom kan tot 175 kg vrugte per jaar voortbring.

Om dit voort te plant word die sade vinnig gekook en dit help met die ontkieming en dan word dit geplant. Daar word ook ‘n moes van gemaak wat in souterige geregte gebruik word, dit het ‘n effense suur smaak. Die vruggies word ook soms gemeng met gewone droë vrugte om ‘n soetsuur smaak te verskaf. In sekere lande eet die mense ook die blare van hierdie bome.

Tamaryn hout word gebruik vir die vervaardiging van meubels. Volgens bronne is die hout baie hard en is moeilik om mee te werk. Die hout het ‘n rooibruin kleur en vertoon mooi wanneer dit gepoleer is. Hierdie bome is redelik bestand teen insekte en swamsiektes.

Tuiniers, dit raak nou koeler en geniet u tuin soveel moontlik tot volgende keer.