Stemreg en staatkundige oplossings in perspektief – deel 1

Sekerlik een van die grootste leuens waarmee die ANC en sy front-organisasies die rewolusionêre aanslag gevoer het, was die leuen oor temreg.

Op 27 April vier nuttige idiote (soos Lenin gestel het) regoor SA die sogenaamde “eerste demokratiese verkiesing” – op sigself ´n opsetlike miskenning van ons volksgeskiedenis.

Waarom soveel klem op stemreg gelê was (en steeds word) vind ons in die noodsaak om die liberaal-humanistiese nagmerrie van die post-moderne era te probeer regverdig:

Kwansuis gee “stemreg” die gewone man (letterlik bedoel) ´n stem in sy heenkome, ´n gewaande geleentheid om die staatkundige verloop te beïnvloed.

Wat minder duidelik gestel word is dat daardie stemreg ´n mistasting is, want deur verkiesingsbedrog word die magshefbome agter die skerms gemanipuleer, en dan word dit verskoon met “jy kan in die volgende verkiesing weer jou stem laat hoor”.

Vandag nog is die gewaande ontneming van swart stemreg die finale verdediging van die liberale dampkring, aangesien al die ander “regverdigings” ontbloot staan as leuens.

WAT WAS DIE WAARHEID?

Ten eerste: demokrasie kan slégs binne volksverband tot reg kom – gaan lees gerus die ontstaansgeskiedenis van “demokrasie” in antieke Griekeland, wat insluit volksverband, stemreg kwalifikasie en die beginsels van eerbare regering, met integriteit, ten behoewe van die stemgeregtigdes, tot uitsluiting van maghebbers se eiebelang.  Menige maghebber wat hierdie verontagsaam het, was genadeloos verban!

Verder, demokrasie is na hierdie land gebring deur ons voorsate, die Patriotte en Voortrekkers.  Dit is welbekende geskiedenis.  Maar omdat ons voorsate die staatkundige sfeer wou grondves in die Calvinisme – as teenvoeter vir die verligting en rewolusionêre gees van destyds, was ons volksdemokrasie uit die staanspoor ´n steen des aanstoots vir die (Engelse) liberaal en humanis.

Nou hieraan verwant: westerse demokrasie is inderdaad vreemd aan die volkskultuur van alle swart volke, waar sentrale stambeheer met ´n gelykstellende ubuntu-kultus beteken dat daar geld absolute gelykheid, onder die alleenseggenskap van ´n leier en sy binnekring.

Dit is dus historiese feite dat die swart volke in hul eie stamgebiede nóóit enige vorm van stemreg geniet het nie!  Verder, as enigste werkbare oplossing, is SA deur die Afrikaner ontwikkel op voetspoor van tradisionele verblyfpatrone.

Mettertyd het swart volkstate beslag gekry, en formele erkenning is vir hulle bewerk op die internasionale toneel – danksy onder ander afsonderlike ontwikkeling en in minder mate deur koloniale regeerders.  Binne daardie state het swart volke alle burgerregte geniet – tot die uitdruklike uitsluiting van byvoorbeeld soortgelyke regte vir blankes!

Weens die sameloop van swart apatie en Brits-internasionale sakebelange, het trekarbeid uit swart gebiede egter die norm geword.  Toe onder nasionale regerings en doktor Verwoerd in besonder bevind is dat langtermyn, vreedsame naasbestaan gaan die ontwikkeling van volkseie ekonomieë vir elke volk, in hul eie gebied noodsaak, is daardie planne doelbewus gekelder.

Die Anglo-Amerikaanse sakebelange, met verskeie liberale ‘afrikaner’ sakelui as marionette, het die ekonomiese ontwikkeling van tuislande gekaap.   Die SAKP het ´n aanvanklik nasionalistiese ANC gekaap en rewolusie begin aanblaas, so vroeg as 1951/52 – lank voor Verwoerd se plan landsbeleid geword het!

Trek-arbeid is deur die eeue en vandag steeds algemeen.  Net so algemeen is die feit dat trek-arbeiders, oftewel ekonomiese migrante, geen burgerregte soos stemreg geniet waar hulle bloot gaan om te werk nie.

Die geïmpliseerde ooreenkoms (sosiale kontrak as ons wil) tussen die trek-arbeider/migrant en die land waar hy/sy werk is suiwer ekonomies.  Die een lewer dienste en word deur die ander daarvoor betaal. Die enigste “regte” het te doen met billike diensvoorwaardes en algemene sosiale dienste waarvoor belasting/s betaal word.

En uiteindelik gaan die trekarbeider terug na sy/haar land van herkoms, waar hy / sy hul kulturele bakermat het en binne hul eie kultuur en volksomgewing kan leef, na hartelus.

Ons geskiedenis leer onomwonde dat die Afrikaner aansienlik méér gedoen het vir ons swart landgenote onder afsonderlike ontwikkeling – meer hieroor in deel 2.

Uiteindelik is die sentrale leuen ontbloot aan enige persoon wat die moeite doen om die retoriek te ignoreer en die feite van die geskiedenis te gaan oplees.

Die enigste rede waarom die ANC-SAKP hulle beywer het vir “stemreg” is omdat dit in die Westerse idioom die weg geskep het tot ´n kwasi-wettige plunder-staat.  Die plunder-staat wat sedert 1994 meedoënloos ontplooi.

SA is vandag ´n rassistiese getalle-tiranie, en stemreg was die sleutel tot hierdie pandorraskis.  Die ander leuens oor gewaande agterstande val dan in perspektief: dit is bloot kosmetiese regverdiging vir die bandelose vergrype en geweld wat ons rondom ons sien en elke dag ervaar;  dit gaan nie werklik oor restitusie nie: dit is bloot die uitleef van bloedlus en haat, selfverryaking en die bevrediging van magslus.