Spesiale parlementsitting ‘n oefening in futiliteit

‘n Spesiale sitting van die parlement, wat deesdae meer die vorm van ‘n sirkus aanneem, is geskeduleer vir 18 April 2017.

Die parlement is eintlik in reses tot vroeg in Mei, maar word nou teruggeroep om die mosie van wantroue teen Jacob Zuma aan te hoor.

Opportunistiese opposisiepartye het geëis dat ‘n mosie van wantroue teen Zuma ingestel moet word na sy kabinetskommeling en die krediet afgradering. Politieke waarnemers reken dit is egter die gryp na strooihalms. Die DA het Vrydag ook gepoog om by wyse van ‘n hofbevel die inhuldiging van die nuwe ministers te keer. Hulle het daarin ook misluk, want dit bly die reg van die president van die land om ministers na sy eie goeddunke aan te stel of af te dank.

Intussen het die speaker van die parlement reeds aangetoon dat daar geen geheime stemming gaan wees nie, omdat die reëls van die parlement dit glo nie toelaat nie.

Nadat die ANC weer sy onverdeelde steun aan Zuma betuig het, is dit ‘n uitgemaakte saak dat die wantrouemosie gaan misluk, wat beteken dat die spesiale sitting van die parlement net ‘n oefening in futiliteit is, en die belastingbetaler weer ‘n klomp geld gaan kos omdat die parlementslede op staatskoste na Kaapstad moet reis.

Foto: Die parlementêre sirkus by ‘n vorige geleentheid