Skotland eis spoedige referendum

Die Skotse premier, Nicola Sturgeon, het weereens ’n beroep op die Britse eerste minister, Theresa May, gedoen om saam te werk en ’n nuwe referendum in Skotland te hou wat so gou moontlik kan plaasvind.

Terwyl die werklikheid van uittrede uit die Europese Unie ook die Skotte direk raak, wil premier Sturgeon sekerheid gee aan haar land se mense oor toekomstige lidmaatskap van die Europese Unie.

Dit kan egter net bereik word deur ’n spoedige referendum waarin Skotse kiesers kan aandui of hulle as onafhanklike staat, los van die Verenigde Koninkryk, weer lid van die Europese Unie kan word.

Verlede Vrydag het Skotland se premier Sturgeon weer ’n brief aan eerste minister Theresa May gestuur waarin die erns van die saak gestel is, en dat ’n referendum vir die Skotte gehou moet word.

Skotland wil die referendum op die laaste hou in die eerste maande van 2019 aangesien die Verenigde Koninkryk eensydig besluit het om Skotland saam te sleep uit die Europese Unie, en die reg te ontneem terwyl die meerderheid Skotte teen uittrede gestem het.

Sy het weereens beklemtoon dat die volgende twee jaar van uiterste belang is vir Skotland, want dit gaan bepaal watter soort land Skotland sal wees.

Foto – Premier Nicola Sturgeon