Serwiese premier word president

Die Serwiese eerste minister, Aleksandar Vucic, is die afgelope naweek verkies tot die land se president, en beloof die kiesers ordelike voortgang en voortgesette werk om lid van die Europese Unie te word.

Hy het ook onderneem om goeie betrekkinge met Rusland en Sjina te handhaaf in belang van Serwië.

Die nuwe president en leier van die konserwatiewe Progressiewe Party sê in ’n kort toespraak na sy oorwinning bekend gemaak is dat hy die land op die Europese en reformatoriese weg sal behou, maar ook vriendskap handhaaf met die Russe en Sjinese.

Aleksandar Vucic het ook sy dank uitgespreek teenoor Bondskanselier Angela Merkel van Duitsland en president Vladimir Poetin van Rusland met wie hy die afgelope maande saamgewerk het.

Vucic se sterkste opponent as presidentskandidaat was ’n 25-jarige student, Luka Maksimovic, wat alhoewel hy uiters onervare is, steeds die tweede meeste stemme op hom verenig het.

Politieke ontleders in Serwië meen die jongman het nie net binne ’n paar weke ontpop tot ’n briljante politikus nie, maar beskik oor al die elemente om met ’n volgende presidentsverkiesing as oorwinnaar uit die stryd te tree.

Politieke ontleders wys daarop dat die nuutverkose president meer mag gaan opeis terwyl die land se president normaalweg ’n seremoniële amp beklee soos wat dit in die grondwet omskryf word.

Foto – Aleksandar Vucic