Sambreelblom / Holmskioldia sanguinea

Die Sambreelblom is ‘n struik wat  regtig iets besonders is. Tuinliefhebbers sal dit net nie miskyk wanneer hul verby hierdie plant stap nie.  Dit is in die Verbenaceae of mint familie en word ook die “Chinese hat plant” genoem. Dit is ‘n immergroen plant in tropiese gebiede. Dit is inheems in die suide van die Himalajas. Hierdie plant groei vinnig.

Holmskioldia sanguinea word die sambreelblom genoem want sy takke hang soos ‘n wilgerboom na onder. Die Sambreelblom is ‘n ornamentele plant en word tussen 3 meter en 7 meter hoog. Dit word tussen 1,8 meter en 4 meter in diameter. Plant hierdie struik in vol son of gedeeltelike skadu, maar moet teen die warmste namiddag son beskerm word, aangesien die blare maklik verlep raak in die ergste hitte. Dit moet goed gedreineerde grond wees en sal in enige tipe grond groei. In die droë gebiede van ons land sal dit goed wees om dit in halfskadu te plant en ook meer gereeld water te gee. Daar is verskillende kleure blomme aan verskillende struike. Dit ruik ook sommer heerlik wanneer die in die blom staan.

Indien dit op die regte plekkie in die tuin geplant word en ook gereeld water kry, sal dit die mooiste trosse blomme dra. Hierdie plante blom vanaf laat winter tot vroeg in die herfs en in sommige gebiede die hele jaar lank. Skoenlappers en bye is baie lief vir hierdie blommetjies.

Dit is ‘n “sagte” plant en moet effens gestut word indien daar sterk winde waai in die gebied waar dit geplant is. Die blare en hangende takke kan maklik slordig word. Sambreelblom kan ook teen ‘n traliewerk opgelei word want die takke is lank en maklik buigbaar. Dit kan ook in potte geplant word. Die blare is klein en heldergroen en ovaalvormig.  Die stam van die struik is ligbruin tot grys.

Tuiniers, dit raak reeds koeler gedurende die nagte en ons moet begin voorberei vir die koue winter. Geniet egter die heerlike dae in die tuin. Tuingroete tot volgende keer.