SA dop omgewingsbewaringstoets

Met slegs 1% vir omgewingsbewaring, is dit duidelik dat Suid-Afrika hierdie toets met lof druip. Dit kan selfs daartoe lei dat die land op ‘n ekologiese ramp afstuur.

Die verdoemende feite blyk uit gegewens wat bekend gemaak is deur die samestellers van die 2017 Best Countries Report. Die verslag word opgestel deur kundiges van US News, die konsultasiemaatskappy Y&R’s BAV en die Wharton-skool aan die Universiteit van Pennsilvanië.

Suid-Afrika is tans 38ste uit 80 lande wat betref onder meer omgewingsbewaring, inwoners se lewensgehalte, toegang tot onderwys en deursigtige regering- en sakepraktyke.

Die verslag meld dat as ekonomiese vooruitgang nie direk gekoppel word aan omgewingsbewaring en -geregtigheid nie, sal die Suid-Afrikaanse regering nie daarin slaag om vroeëre beloftes aan sy inwoners gestand te doen nie. Die ANC-regering sal byvoorbeeld nie daarin slaag om ’n beter lewensgehalte en volhoubare voedselvoorsiening aan sy burgers te verseker nie.

Benewens die 1% vir omgewingsbewaring, kry die land ook 0,02% vir vertroue, 0,9% vir burgers se lewensgehalte en 0,5% vir leierskap.

Terreine waarop die land egter beter vaar is 41% vir godsdiensvryheid, 42% vir burokrasie, en die land spog darem amper met een onderskeiding, en dit is vir korrupsie met 74%.

Swede is boaan die lys van lande wat die meeste vir die omgewing omgee.