Russe tree in vir oostelike Oekraïne

Rusland het blitsvinnig opgetree in die ooste van die Oekraïne nadat die regering van die land die kragtoevoer na die gebied afgesny het, en elektrisiteit gekoppel wat die gebied voortaan van krag sal voorsien.

Die oostelike deel van die land is onder beheer van pro-Russiese separatiste en die regering het die krag afgesny weens die beweerde wanbetaling van elektrisiteit.

Politieke ontleders in Europa meen die optrede van die regering was noodsaaklik, maar bied die geleentheid aan die pro-Russiese separatiste om stewiger bande met Rusland te smee.

Die vermoede bestaan dat die separatiste doelbewus nie die kragrekenings betaal nie, om sodoende verder weg te beweeg van die Oekraïne.

’n Woordvoerder van die Kremlin, Dmitry Peskov, het later gesê die regering van die Oekraïne het met die optrede die separatiste verder verwyder.

Peskov het gesê Rusland het ingetree om te voorkom dat sowat drie miljoen inwoners in die donker sit en die streek ekonomies benadeel.