Regering kry weer bloedneus in hof

In die jongste bloedneus wat die ANC-bewind in ‘n hof opgedoen het, het die Wes-Kaapse hooggeregshof bevind dat feitlik alle prosesse van die regering se kernkragooreenkoms met onder meer Rusland onwettig en ongrondwetlik was.

Die ooreenkoms is nog deurgestoomroller deur die vorige minister, wat intussen ook uit die parlement bedank het, Tina Joemat-Petterson. Sy het haar nie laat waarsku nie en enige advies geïgnoreer.

Die hofuitspraak wys onteenseglik dat die proses in alle waarskynlikheid met groot ongerymdhede gepaard gegaan het, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor energie.

Adv. Alberts sê die VF Plus verwelkom die bevinding, asook die hof se bevel dat die regering die partye se regskoste betaal, al beteken dit dat die belastingbetaler eintlik moet pa staan vir nog ʼn poging van die ANC-regering om die staatskas te plunder.