“Pienk Ster” diamant oortref alle rekords

’n Reuse 59,6 karaat diamant wat “Pienk Ster” gedoop is, is die afgelope week van die hand gesit vir $71,2 miljoen by ’n veiling van Sotheby.

Die hoogste bod wat ontvang is, was afkomstig van die Chow Tai Fook groep, maar dit is nie bekend wie die knewel se werklike nuwe eienaar is nie.

Sotheby se voorsitter van Internasionale juweliersware afdeling, David Bennett, wat die veiling in Genève bygewoon het, sê dit was ’n belangrike transaksie vir sy maatskappy, wat die indruk laat dat dit nie vir iemand anders aangekoop is nie.

Die prys wat betaal is vir die “Pienk Ster”, het alle vorige rekord pryse vir enige diamant of juweliersware oortref.

Verskeie ander diamante is vir besonder hoë pryse van die hand gesit, en bykans 200 ander transaksies is beklink.

Die pragtige “Pienk Ster” het ’n afmeting van 2,69 by 2,06 sentimeter en weeg 11,92 gram nadat dit verwerk is.

Die oorspronklike diamant  was 132,5 karaat toe dit deur De Beers in 1999 ontgin is in Suid-Afrika.