Noord-Korea gereed vir oorlog teen VSA

Die kommunistiese Noord-Korea het in ’n verklaring gesê die land is gereed vir oorlog teen die Verenigde State van Amerika, en vrees nie enige pogings van die VSA om sy kernwapen en missielprogram te stuit nie.

Die kommentaar kom van die ministerie van buitelandse sake in reaksie op die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Rex Tillerson, se verklaring dat strenger sanksies en groter druk op Noord-Korea toegepas moet word.

Tillerson het ook verwys na moontlike militêre maatreëls indien die kommunistiese land nie wil afsien van sy kernwapen program nie.

Die Koreaanse Sentrale Nuus Agentskap het berig dat die kernwapenprogram van Noord-Korea is die swaard van geregtigheid en die mees betroubare oorlogswapen om die sosialistiese land en sy mense te beskerm, en sal daarom voortgesit word.

“Ons het die wil en die kapasiteit om voluit te reageer op enige oorlog wat die VSA wil begin”, lui die kommentaar.

Die uitdaging kom nadat Amerika van sy oorlogskepe gestuur het na die Noord-Koreaanse gebied, maar die kommuniste het gewaarsku dat die skepe dit nie moet waag om die “rooi streep” oor te steek tot in die gebiedswaters van Noord-Korea nie.