Navo lande moet bydraes verhoog

Wat waarskynlik reeds ’n irriterende refrein geword het in die oor van Navo lande, het weereens opgeklink toe die Amerikaanse minister van buitelandse sake die Navo lande versoek het om hulle finansiële bydraes te verhoog.

President Donald Trump het reeds in sy verkiesingsveldtog gesê die Navo lande moet hulleself beter beveilig deur meer by te dra tot die fonds van Navo.

Die afgelope week het minister Rex Tillerson nie gehuiwer om die verskil tussen Amerika en ander Europese lande se bydraes te vergelyk ter stawing van sy standpunt nie.

Hy het daarop gewys dat Amerika byna 4% bydra, terwyl Duitsland met sy sterk ekonomie slegs 1,2% bydra en Frankryk 1,8%.

Ander lande wat ewe swak bydra is Italië met 1,0% en Spanje met 0,9%, wat Amerika met reg laat vra of Navo lande nie beter kan doen om hulle eie veiligheid te verseker nie.

Tillerson het herhaal dat die huidige indeling van bydraes deur die lidlande nie meer voldoende is nie, en ’n herindeling moet gedoen word, het hy gesê.

Hy het egter bygevoeg dat Amerika steeds die belangrikheid van Navo wil beklemtoon, en daarom moet die bydraes van lidlande verhoog word en ’n algehele herindeling gedoen word omdat Navo noodsaaklik is vir die voortbestaan van ’n veilige wêreld.

Foto – Minister Tillerson by Navo