Mynmaatskappy gaan nie verder is SA belê

Nadat Pioneer Foods verlede week aangekondig het dat hy bepaalde projekte in Suid-Afrika op ys plaas hangende die situasie in die land na die afgraderings, het die mynreus, Sibanye Gold, ‘n soortgelyke aankondiging gemaak.

Sibanye Gold het aangekondig dat hy nie verder in Suid-Afrika sal belê nie weens probleme in die regering, beleidsonsekerheid en retoriek teen groot ondernemings wat beleggers afskrik.

Dit is met direkte verwysing na uitsprake van die ANC staatshoof, Jacob Zuma, die laaste tyd.

Adv. Anton Alberts van VF+ beskryf dit as “die wrang vrugte van president Jacob Zuma en die ANC se vertrapping van die land se ekonomie wat die land nou pluk”. Hy sê die tekens kom nou sterk deur dat groot en bekende maatskappye nie meer skroom om te sê hulle wil weens die vergrype van die president en die regering nie meer in Suid-Afrika belê nie.

“As Sibanye Gold se vooruitskatting van ekonomiese vooruitsigte in Suid-Afrika en sy vertroue in die regering so somber is, kan dit sekerlik as ʼn gegewe aanvaar word dat vele ander maatskappye hierdie siening deel.

“Dit laat die vraag ontstaan hoeveel minder bekende maatskappye reeds hul beleggings in Suid-Afrika na die buiteland geneem het, en hoeveel die voorbeeld gaan volg,” sê adv. Alberts.