Motorrubriek – Maserati Levante 3.0 D

 

Die Italianers is bekend daarvoor dat hulle vir geen motorvervaardiger terug staan nie. Weer eens het hulle die spreekwoordelike “haas uit die hoed” getrek toe hulle die Maserati Levante bekend gestel het.

In SA gaan dit vir ‘n begin slegs beskikbaar wees met ‘n diesel gedrewe kragbron, en ook nie ‘n V8 nie, maar wel ‘n 3.0 liter V6. Dit beteken nie dat dit sal terug staan vir ander groot name nie. Dit gaan miskien nie soveel”oomph” hê as ander nie maar dit is ook nie “treurig” nie.

Die enjin word voorsien deur die Fiat VM Motori maatskappy en staan bekend as die A 630 DOHC HP enjin. Dit is dieselfde kragbron wat in die Jeep Grand Cherokee, Chrysler 300 en Ram 1500 gebruik word. Die kraglewering is 202 kW @ 4000 o.p.m. en die wringkrag is 600 Nm @ 2000 o.p.m. ‘n Agt spoed ZF outomatiese ratkas word gebruik en die oorskakeling is seepglad. Met al vier wiele wat die krag oordra na die pad, is ‘n mens verseker dat, wanneer jy selfs die teerpad verlaat en op rowwe terrein reis, die voertuig goeie padhouvermoë sal hê. Die lugbeheerde suspensie wat vier verskillende hoogte verstellings bevat, verseker dat redelike rowwe terrein besoek kan word. Die stabiliteitsbeheer stelsel verseker dat die rit glad verloop.

Op die oop pad is die padgedrag van ‘n hoë standaard maar wat anders kan ‘n mens verwag van ‘n motor wat uit die Italiaanse stal kom? Volgens die vervaardiger is die brandstofverbruik 7,2 liter/100 km en met ‘n brandstofhouer van 80 liter behoort ‘n mens ongeveer 800 km te kan reis voordat dit nog is om die voertuig te hervul. Die vervaardiger maak daarop aanspraak dat die versnelling van 0 tot 100 km/u 6,9 sekondes is en die maksimum snelheid is 230 km/u.

Alhoewel dit nie ‘n sportmotor is nie maar wel ‘n sportnutsvoertuig, skep die sierlike buitelyne die indruk van min wind weerstand. Selfs die voorste sierrooster benadruk hierdie gevoel. Daar is pragtige buite bak rondings met die bekende Maserati embleem in die middel van die sierrooster, die weglê hoofligte en die kolligte op ‘n gerieflike hoogte bo die padoppervlakte gemonteer om die moontlike beskadiging deur klippe, te beperk.

En dan is daar die binnekant! Die instrumente paneel met sy groot aanraakskerm is binne maklike bereik van die bestuurder. Die instrumente is maklik leesbaar deur die bokant van die stuurwiel en die leer bedekte sitplekke verseker ‘n uiters gemaklike rit. Op die stuurwiel self is verskeie beheer skakelaars aangebring om van die toerusting te bedien en die bekende Maserati embleem verskyn op die stuurwiel. Indien die voornemende eienaar bietjie meer swier wil byvoeg, kan sitplekke wat voorsien word deur Ermenegildo Zegna, gepas word.  Beenspasie vir die agterste passasiers is nie ‘n probleem nie en die bagasieruimte is inderdaad ruim en heelwat bagasie kan ingelaai word.

Die Maserati Levante is ‘n 100% Italiaans vervaardigde voertuig en wanneer dit vir ‘n toetsrit geneem word, word daardie gesofistikeerde indruk bevestig.