MK veterane opereer as private weermag

Dit is onaanvaarbaar dat die ANC se MK-veterane aangewend word om Luthuli-huis te beskerm en te verdedig, want dit beteken hulle word operasioneel aangewend wat nie toelaatbaar is nie.

Die leier van VF Plus, dr. Pieter Groenewald, het sy kommer oor die optrede van die veterane uitgespreek omdat hulle die indruk skep dat dit eerder ʼn private weermag is as werklike MK-veterane. “Die jeugdigheid van sommige lede wat deel is van die organisasie en wat in uniforms verskyn en selfs vuurwapens hanteer toon dat hulle beslis nie veterane en lede van uMkhonto we Sizwe kon gewees het nie,” sê dr. Groenewald.

Hy sê ʼn militêre veterane organisasie se doel is om oudstryders op sosiaal-maatskaplike basis by te staan en te ondersteun en nie om operasioneel aangewend te word nie.

“Private weermageenhede is onwettig en daar moet streng opgetree word teen hierdie tipe paramilitêre samestellings en optredes.”