Merkel nie meer invloedryk nie

Vir langer as drie jaar was daar geen twyfel nie dat Bondskanselier Angela Merkel van Duitsland die invloedrykste vrou in die wêreld is volgens die gesaghebbende opname van “Time Magazine”.

In die jongste opname wat deur die tydskrif gemaak is, verskyn haar naam egter nie onder die 100 mees invloedryke mense van die wêreld nie.

Angela Merkel is vir jare hoog aangeslaan vir haar invloed op internasionale politieke gebied, maar dit het nou verval.

Waar die tydskrif kanselier Merkel jaar na jaar besing het vir haar enorme invloed in die wêreld, het haar naam eensklaps verdwyn as “wêreldleier”.

In Times se jongste uitgawe verskyn name wat voorheen as radikale mense beskou is, soos die Filippynse president Duterte.

Die Amerikaanse president, Donald Trump, se naam verskyn onder die “leiersfigure” saam met die Amerikaanse minister van verdediging, James Mattis.

Verbasend genoeg verskyn Ivanka Trump se naam ook op die lys van invloedrykes saam met die Turkse president Erdogan en die Noord-Koreaanse diktator Kim Jong-Un.

Kenners vind dit vreemd dat kanselier Merkel se naam nêrens verskyn nie, terwyl mense soos minister Mattis se naam wel aangedui word.

Alhoewel ietwat laer op die lys, is president Vladimir Poetin se naam weer hoog op die lys van invloedrykes, maar kort onder premier Theresa May se naam..

Times Magazine” gebruik inligting oor mense se prestasies wat bereik is, en hoe dit deur die wêreld erken word om hulle lys opgestel te kry.

Ontleders meen Angela Merkel se invloed het “oornag” verdwyn nadat sy die een terugslag na die ander gehad het met haar oop deur beleid met onwettige immigrante wat sy na Europa “uitgenooi” het, en wat ’n klomp terroriste ingesluit het.

Foto – Kanselier Angela Merkel