Mandevilla een van die mooiste rankplante in ons tuine

Mandevilla het voorheen bekend gestaan as dipladenia. Dit is ‘n groep mooi klimplante wat van Suid- en Sentraal-Amerika afkomstig is. Mandevillas behoort aan die Apocynacee familie. Daar is vandag talle hibriede beskikbaar by kwekerye. Sommige van hierdie plante is struikagtig en word bos dipladenias genoem, maar die meeste van hulle is rankplante en moet goed gestut word. Dit vertoon so mooi teen ‘n boog in die tuin asook teen ‘n pilaar op die stoep. Mandevilla is sterk plante en het volop plek nodig.

Mandevillas se rank stammetjies is dun en effens rooi/groen en hulle is blink en sterk en hierdie plante blom weelderig. Die blomme is trompetagtig en in verskeie kleure beskikbaar. Daar is deesdae ook heldergeel Mandevillas beskikbaar en word “Diamantina Opale Citrine” genoem Hierdie plante begin blom in die lente en blom regdeur die somer tot laat in die herfs. Die blare groei ook dig aan die rankers en is blink en leeragtig en heldergroen.

Plant Mandevillas in volson op ‘n plek met vrye lugbeweging soos teen ‘n losstaande steunstruktuur. Ons moenie hierdie plante direk teen ‘n warm skerm muur plant nie. Hulle verkies goed dreinerende grond met baie kompos of veenmos wat in die grond ingewerk moet word. Moenie hul vlesige knolwortels versteur of raakspit nie, want hierdie wortels berg voedsel en water. Voed Mandevillas gereeld met ‘n gebalanseerde misstof van die lente tot die herfs. Gebruik ook wateroplosbare plantvoedsel met hoë vlakke van kalium vir jong plante en korrelmisstof vir ouer plante. Bedek die grond waar u ‘n nuwe plant geplant het om die wortelsone te beskerm. Gevestigde plante kan redelik lank sonder water klaarkom.

Snoei houterige of langbenerige plante in die lente goed terug sodra daar nuwe groei sigbaar is om sterk nuwe groei te bevorder en welige loof en oorvloed blomme te dra. Die gewone pienk Mandevillas moet baie goed teruggesnoei word, ander sal die plant handuit ruk. Snoei gee nuwe lewe aan die plante. Hierdie plante is nie giftig nie, maar gebruik liewer tuinhandskoene en was u hande goed nadat u met hulle gewerk het.

Die kleiner Mandevilla sanderi hibriede of bosdipladenias is ideaal vir potte maar kan ook in die tuin uitgeplant word. Hierdie kleurryke plante word beskou as een van die drie blomrykste plante ter wêreld. Hul eindelose blomproduksie maak hulle uniek. Mandevillas is vatbaar vir sekere plae en siektes veral as hulle onder die dakoorhang gekweek word. Wolluise is ‘n gevaar en plante moet gereeld met ‘n sistemiese insekdoder behandel word. Rooispinmyt is ook lief vir die plante veral gedurende ‘n warm, droë somer. Gebruik ‘n mytdoder daarvoor.

 

Tuiniers, skaf ‘n ewigblommende Mandevilla aan met geen ekstra moeite nie. Geniet u tuin tot volgende keer.