Linkse partye struikel in Europa

Die linkse politieke partye in Europa voer tans ’n opdraande stryd en gaan na verwagting die een na die ander verkiesing verloor gedurende vanjaar se stryd.

In Brittanje is die immer ongewilde leier van die linkse Arbeiders Party in die hoek gedruk met Theresa May se aankondiging van ’n vervroegde algemene verkiesing.

Meningspeilings toon dat die Konserwatiewe Party van premier Theresa May ’n groot oorwinning gaan behaal in die Junie verkiesing terwyl Corbyn se gewildheid gedaal het na ’n skrale 24% steun.

In Frankryk het die Sosialiste Party van president Hollandè ’n verlore stryd begin met hulle ongewilde beleid en Hammon as hul vêr linkse presidentskandidaat wat kwalik 7% steun geniet.

Politieke ontleders sê die neiging tot nasionalisme het in talle Europese lande vlam gevat, en ook in Duitsland het die linkse partye ’n dalende steun wat rampspoedige gevolge vir hulle inhou.

Die opkoms en herlewing van nasionalisme is besig om die linkse beleidsrigtings te verdring, en alhoewel Angela Merkel se konserwatiewe koalisie regering weer gaan wen, sal dit ook ’n taai klap vir linkse partye beteken.

Martin Schulz van die linkse Sosiaal Demokrate in Duitsland sukkel tans om ’n sterk ondersteuningsbasis te vestig teen kanselier Merkel, en geniet nie die steun wat Duitse joernaliste voorspel het nie.

Schulz se steun het afgeneem en is tans minder as 30% teenoor Merkel se 37% steun.

Dit beteken egter nie dat linkse partye in Europa sal verdwyn nie, want na mate omstandighede in ’n land verander, verander mense ook in siening en partye verloor steun weens foute wat gemaak word deur regerings.

Dit is egter merkwaardig dat nasionalisme besig is om in die grootste deel van Europa te herleef, en dit is veral die jonger kiesers wat leiding neem en nasionalistiese partye laat groei, word gesê.

Foto – Jeremy Corbyn