Lenasia inwoners beveg grondbesetting

Inwoners van die suidelike uitbreidings van Lenasia by Johannesburg, het in konflik met die polisie beland toe hulle betoog het teen plakkers wat grond onwettig beset.

Die polisie het skokgranate, rubberkoeëls en traanrook gebruik om die betogers uiteen te jaag.

Onwettige grondbesetting het voorgekom en die optoggangers het geëis dat die grond van hulle teruggeneem moet word. ‘n Gemeenskapsleier het verduidelik dat daar by die owerhede gekla is oor die plakkery, maar dat hulle niks daaraan gedoen het nie.

Die gemeenskap het toe self van die plakkershutte afgebreek en verwyder, maar hulle toe deur die plakkers as “Guptas” uitgeskel.

Die gemeenskapsleier sê dit is onregverdig dat hulle wat swaar aan verbande moet afbetaal, nou die plakkers op hulle voorstoep kry en wat die grond onregmatig beset, en dit nogal gratis.

Sekere paaie is skynbaar nog versper en die gemeenskap het gedreig om die paaie toe te hou totdat munisipale amptenare die situasie met die gemeenskap kom bespreek.

“Niemand gaan hierheen kom en die waarde van ons huise verminder nie, waarvoor ons hard moet werk om dit af te betaal. Ons gee nie om of dit polities gemotiveerd is nie. Laat die politici die besetters hulle eie huise gee,” is die gemeenskapsleier se kommentaar.