Honderde AFD lede by konferensie

Sowat 4 000 polisiebeamptes is opgeroep om wet en orde te handhaaf in Keulen waar sowat 600 afgevaardigdes van Alternatief vir Duitsland (AFD) se lede ’n party konferensie gehou het.

Inwoners het verbaas toegekyk hoe duisende betogers teen die AFD die middestad inneem terwyl polisiebeamptes oral sigbaar is.

’n Groot banier waarop “No beer for Nazis!” geskryf is, hang voor ’n hotel se kroeg in die westelike stad van Duitsland waar die konferensie plaasvind.

Duisende betogers het in die strate gebots met die polisie terwyl die AFD konferensie ongestoord voortgegaan het.

Meer as 50 000 radikaal linkse betogers is verwag, maar hoogstens 10 000 het opgedaag en het op ’n stadium probeer om by die polisie deur te breek om die konferensie te ontwrig, maar is deur perderuiters van die polisie gekeer waarna verskeie in hegtenis geneem.

Die AFD hou die konferensie om gereed te maak vir die komende algemene verkiesing wat in September plaasvind, en sal waarskynlik ook kandidate aanwys in die lig van dr. Frauke Petry se aankondiging dat sy nie beskikbaar is nie.