Hewige aanslag teen nasionalisme

Die Franse presidentsverkiesing het sy verrassings gelewer, maar die oproep om eendragtig teen die nasionalis, Marine Le Pen en haar Front Nasionaal, te stem in die tweede rondte is vroeër deur kenners voorspel.

Politieke ontleders in Europa sê dit is verbasend dat Marine Le Pen wel kon deurdring na die tweede rondte terwyl alle partye hulle aanvalle op haar en haar party uitgevoer het.

Die presidentskandidaat Francois Fillon, wat gereken word as ’n sterk konserwatiewe lid van die Republikeine, het sy ondersteuners opgeroep om vir Emmanuel Macron te stem en sodoende te verseker dat Le Pen nie president word nie.

Fillon se beleid, wat hy gepropageer het tydens die veldtog, is veel nader aan dit waarvoor Marine Le Pen haar beywer, wat Fillon se optrede uiters vreemd maak.

Die Sosialiste se Hamon kon kwalik 7% steun trek, maar het ook aangekondig dat hy sy ondersteuners aanmoedig om nie vir Le Pen te stem nie.

Verskeie presidentskandidate het intussen te kenne gegee dat hulle ondersteuners nie vir Le Pen sal stem nie, wat beteken dat sy geen geringe kans het om in die tweede rondte verkies te word as die kiesers gehoor gee aan hul leiers se versoeke nie.

Politici het die eindresultaat van die eerste rondte beskryf as ’n aardbewing wat Frankryk getref het toe dit bekend word dat nie een van die twee tradisionele politieke partye, die Republikeine of die Sosialiste, daarin kon slaag om deur te dring na die tweede rondte op 7 Mei nie.

Die kommunistiese koerant in Frankryk, “L’Humanité”, het ’n bitsige aanval op Marine Le Pen gevoer met ’n opskrif: “Le Pen – Nooit!”

Verskeie koerante en meningsvormers meen die sterk vertoning van Marine Le Pen en haar Front Nasionaal party is ’n duidelike teken dat dié liberale land ’n verskuiwing na regs gemaak het.