Gigaba gevaarlik oor selfvertroue

Daar is min mense in die wêreld so gevaarlik soos iemand wat vol gewaande selfvertroue is, maar in werklikheid nie ‘n idee het wat hy doen nie. Malusi Gigaba is presies net so, reken adv. Anton Alberts van VF+.

Adv. Alberts sê die nuwe en onervare minister van finansies, Malusi Gigaba, se gebrek aan oordeelsvermoë blyk duidelik daaruit dat hy die sogenaamde ‘nasionaliseringsprofessor’ Chris Malikane as raadgewer saamgeneem het na Amerika om met beleggers en Moody’s oor Suid-Afrika se ekonomiese toekoms te praat.

Adv. Alberts sê veral Moody’s sou kennis neem van Malikane se standpunte asook president Jacob Zuma se eie pleidooi vir onteiening van eiendom sonder vergoeding.

“Teen hierdie agtergrond sou Moody’s en ander beleggers Gigaba se versekering dat die ekonomiese en fiskale beleid dieselfde as onder Gordhan sal bly, bloot as oneerlike dubbelpratery beskou.

“Feit is dat die onervare tog selfversekerde Gigaba nie kan insien dat daar regdeur hom gesien word nie. Daarom sal Gigaba, sy professor en hul president persoonlik moet verantwoordelikheid neem indien die finale kredietafgradering plaasvind.

“Elkeen wat sy werk verloor, elkeen wat honger ly, elkeen wat dakloos is, elkeen wat op ‘n wyse benadeel is, sal dan die koppe van Zuma, Gigaba en Malikane moet eis. Die rewolusie kom nog en dit gaan draai teen diegene wat dit geskep het,” sê adv. Alberts.