Franse Sosialiste Party val uitmekaar

President Francois Hollandè se goedkeuring aan omstrede aangeleenthede, het die Sosialiste Party se steun sodanig laat afneem dat hul presidentskandidaat byna geen steun geniet nie.

’n Lojale ondersteuner het bevestig dat daar vanjaar feitlik geen ondersteuners is wat bereid is om vir die party se verkiesingsveldtog te werk nie.  Waar die party in die verlede honderde mense gekry het wat pamflette by huise versprei, is daar vanjaar feitlik geen hulp nie.

In die jongste meningspeiling is aangedui dat die verlinkse Sosialiste se presidentskandidaat, Benoit Hamon, hoogstens 10% van die kiesers se steun geniet, wat hom geen kans gee om in die tweede rondte van die verkiesing deel te neem nie.

Meningsvormers is van oordeel dat Hamon wys sou wees om eerder die handdoek in te gooi, maar daarvan wil sy klein ondersteunerskorps nie hoor nie.

Vir dekades was die noordelike deel van Frankryk onder beheer van die Sosialiste, maar tans is die gebied se kiesers veel groter ondersteuners van die nasionalis, Marine Le Pen.

Kenners is dit eens dat die eindstryd in die tweede rondte van die Franse presidentsverkiesing beslis sal word tussen Marine Le Pen en die linkse Emanuel Macron wat as onafhanklike sosialistiese kandidaat sy veldtog voer.

Foto – Presidentskandidaat Hamon