Frankryk nader die kruispad

Die presidentskandidaat van Front Nasionaal, Marine Le Pen, het haar bedanking ingedien as voorsitter van die party.

Le Pen sê in ’n TV onderhoud dat sy dit doen om al haar tyd en aandag te gee aan die oorblywende twee weke voor die finale rondte van die Franse presidentsverkiesing.

Sy het daarop gewys dat haar uittrede as voorsitter van Front Nasionaal onder meer beteken dat sy veel beter kan fokus op die verkiesing sonder om gemoeid te wees met die verpligtinge as voorsitter van die party.

“Frankryk nader ’n beslissende oomblik” het sy gesê, en daarmee bedoel sy om alles moontlik doen om ’n rol te vervul in belang van die land.

Intussen het meningsvormers en party leiers van die Republikeine ’n sterk bewoorde verklaring uitgereik waarin hulle teen die uitspraak van hulle kandidaat Francois Fillon gegaan het.

Fillon het na afloop van die eerste rondte verkiesing gesê hy moedig sy ondersteuners aan om vir Emmanuel Macron te stem, en nie vir Marine Le Pen nie.

Die Republikeinse party het die siening verwerp en gesê die kiesers is vry om te stem vir die persoon van hulle keuse in die tweede rondte.

Fillon het later in ’n onderhoud erken dat die party sy siening verwerp het, en bygevoeg dat hy “opnuut as ’n militante behandel word”.

Frankryk hou ook na afloop van die presidentsverkiesing op 7 Mei, hulle parlementsverkiesing op 11 en 18 Junie, wat die Republikeine klaarblyklik sonder Fillon se steun sal aanpak.

Foto – Marine Le Pen