EU veroorsaak spanning met Brittanje

Spanning is aan die opbou tussen die Europese Unie en Spanje aan die een kant, en Gibraltar en Brittanje aan die ander kant.

Die regeringshoof van Gibraltar sê in ’n verklaring dat Spanje besig is om sy gebied te treiter terwyl die Europese Unie dit stilweg toelaat.

Dit is die reaksie van Gibraltar op die voorstel van die Europese Unie om Spanje die vetoreg te gee in die toekoms nadat Brexit afgehandel is.

Verlede Vrydag het dit bekend geword dat die EU op versoek van Spanje, die status van die “Britse Rots” wil betrek by die Brexit onderhandelinge.

Die minister van buitelandse sake in Brittanje, Boris Johnson, het vroeër die Britte se standpunt onomwonde en met felheid gestel toe hy gesê het Gibraltar is nie te koop nie.

’n Lid van die Britse Hoërhuis, Michael Howard, het ook skerp gereageer en gesê die saak sal lei tot oorlog, en bygevoeg dat premier Theresa May bereid is om Gibraltar te verdedig soos wat Margaret Thatcher die Falkland Eilande verdedig het.

Gibraltar se Fabian Picardo het direk teen Donald Tusk van die Europese Raad te velde getrek en die blaam vir die spanning vierkantig op sy skouers geplaas.

Hy sê in ’n verklaring dat Gibraltar nie ’n ruilmiddel is nie, en bly deel van Brittanje, binne of buite die Europese Unie.

Tydens die Vrede van Utrecht in 1713, is Gibraltar finaal aan Brittanje toegesê.

Foto – Fabian Picardo