eNatis van lyn: motoris kan misdadiger word

Voertuigeienaars kan nou moontlik die gevolge dra van eNatis se onvermoë om sy Telkom-rekening van R8 miljoen te betaal aangesien eienaars ingevolge die Nasionale Padverkeerswet beboet kan word indien hul voertuiglisensies nie betyds hernieu word nie, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.

Volgens adv. Alberts het ʼn werknemer van eNatis aan die VF Plus erken dat hul stelsels “van lyn is” weens die uitstaande rekening en dat eNatis tans met Telkom onderhandel om ʼn oplossing te vind.

Hy sê die VF Plus het ʼn brief geskryf aan die minister van vervoer, mnr. Joe Maswanganyi, waarin hy gevra word om dringend aandag aan die probleem te skenk en om vas te stel hoe dit ontstaan het.

“Dit is skandelik dat duisende voertuigeienaars gekriminaliseer en beboet kan word weens die onbevoegdheid van die eNatis-stelsel se bestuur. Indien daar nalatigheid betrokke was, moet die skuldiges verantwoordelik gehou word.

“Daar is na verneem word ʼn dispuut tussen Telkom en eNatis oor die rekening, maar dan moes eNatis betyds ʼn reëling getref het dat die lyne aktief bly hangende ʼn oplossing vir die dispuut.

“Voertuig-eienaars is nou uitgelewer aan ʼn disfunksionele staat net soos talle mense dit daagliks op ander gebiede ervaar. Die VF Plus versoek die minister om in belang van motoriste dringend in te gryp,” sê adv. Alberts.