Die boorgate het weggeraak

Die regering van Suid-Afrika het gedurende die droogte miljoene rand spandeer om boorgate te sink by die sogenaamde agtergeblewene kleinboere.

Die boorgate het byna verdwyn, want dit het maande geduur voordat die rekords gevind kon word met die koördinate waar die boorgate is.

Die soektog na die boorgate is egter nog aan die gang, want die Departement van Landbou het ook die boorgate toegerus met pompe en word dit as noodsaaklik beskou dat die boorgate “wat staatseiendom” is, gevind word.

Opposisiepartye is glo bekommerd oor die geweldige koste wat aangegaan is om bitter min water oop te boor en dan met pompe toegerus moes word.

’n Soektog is ook aan die gang om vas te stel wie besluit het waar die boorgate gesink moes word, en waarom baie gate so min water lewer.

Die landbou minister, Senzeni Zokwana, het gesê die departement het 120 gate geboor waarvan 70 suksesvol water lewer, en die gate is teen ’n koste van R550 per meter geboor.

Hy sê die provinsiale regerings het die toerusting verskaf aan sowat 200 boorgate regoor die land.

Toerusting wat verskaf is, het meer as R51 miljoen beloop en volgens die minister is 175 se toerusting is weer opgeknap.

Landboukenners het hulle twyfel uitgespreek oor die besonderhede wat verstrek is, maar sê die “water is onder die brug deur” en kan nie herwin word nie.