Baskiese rebelle handig hul wapens in

Die afgelope naweek het die Baskiese afskeidingsbeweging, die ETA, die plek waar hulle wapen arsenaal is, aan die Franse regering bekend gemaak.

Na ’n stryd van 58 jaar het die Baske besluit om die wit vlag te hys en hulle bedrywighede as strydende rebellemag te staak.

Die leiers het hulle opslagplek waar minstens twee ton plofstof en vuurwapens geberg is, bekendgemaak.

Alhoewel dit nog te vroeg is om te weet of die ETA as beweging gaan ontbind, is die algemene gevoel dat hulle geleidelik sal uitrafel en verdwyn van die toneel.

Die Euskadi Ta Askatasuna (ETA) wat beteken “Baskeland en Vryheid” se leiers het gebruik gemaak van ’n tussenganger om die geheime wapenopslagplek uit te wys aan die Suid-Franse owerheid van die stad Bayonne.

Onbevestigde berigte lui dat die Baske sowat twaalf stukke grond in die berge besit wat na aan die Spaanse grens geleë is.

ETA is opgerig in 1959 en het al die jare gestry vir ’n onafhanklike Baskeland in die noorde van Spanje wat ook ’n deel is van die suidwestelike streek van Frankryk.

Die leiers het gesê hulle sal steeds poog om op demokratiese wyse te beding vir hulle vryheid in ’n onafhanklike Baskeland.