AFD konferensie wys kandidate aan

Die nasionalistiese Alternatief vir Duitsland (AFD) het hulle kandidate aangewys vir die komende algemene verkiesing wat in September gehou word.

Die konferensie van 600 afgevaardigdes het die nasionalis, Alexander Gauland, asook die ekonoom, Alice Weidel, aangewys om in die afwesigheid van die leier dr. Frauke Petry die stryd te voer.

Die AFD sal die federale verkiesing ingaan met Alexander Gauland as leiersfiguur wat oor die taktiese vermoëns beskik om die party te lei.

Alexander Gauland was vir jare ’n sleutel figuur in die Christen Demokratiese Unie van kanselier Angela Merkel.

Die besigheidskonsultant en ekonoom, Alice Weidel sal ’n belangrike ondersteuningsrol vervul aangesien die onderleier van die AFD, Jörg Meuthen, ook bekend gemaak het dat hy nie beskikbaar is as kandidaat nie.

Die konferensie het reeds ’n program saamgestel vir die verkiesing, en die elf deelstate wat reeds in hul onderskeie streekregerings sitting het, sal gesamentlik help om in die ander vyf deelstate uit te brei.

Duitsland hou sy federale verkiesing op 24 September, en alle aanduidings is dat Bondskanselier Angela Merkel weer ’n oorwinning sal behaal, alhoewel dit met ’n verkleinde meerderheid kan wees.

Die konferensie het verskeie belangrike besluite geneem, en ook gevra dat die Duitse volk meer kinders in die wêreld moet bring om Duitsland se aanwas te verbeter.

Foto – Alexander Gauland