VSA wil nie handelsoorlog begin

Die Amerikaanse minister van Finansies, Steven Mnuchin, het die naweek in Berlyn gesê die VSA wil nie enige handelsoorlog begin nie.

“Ons doel is om ekonomiese groei te genereer tot voordeel van Amerika en ook vir die res van die wêreld”, het hy gesê.

Hy het in Berlyn gepraat en die toeligting gegee aan sy Duitse kollega, Wolfgang Schäuble, kort voor die aanvang van die komende G20 beraad

Waarnemers het die uitgangspunt van die voormalige Amerikaanse bankier as ’n sein van versoening beskryf wat ook tot die adres van Sjina gerig is.

Sy uitspraak volg kort nadat Sjina verklaar het dat hulle geen begeerte het om ’n handelsoorlog met die VSA te begin nie.

President Donald Trump het by verskeie geleenthede die indruk gelaat dat hy buitelandse maatskappye sal bly oorreed om eerder in die VSA te belê as wat hulle moontlik in ander lande sou wou doen, en dit het die indruk van ongenaakbaarheid, en ’n houding van bereidheid tot ’n handelsoorlog aan die wêreld te sein.

Bondskanselier Angela Merkel was nog altyd bekommerd oor die houding van die Amerikaanse president terwyl sy self glo aan ’n vrye handel sisteem.

Minister Steven Mnuchin sê die VSA se president glo ook aan vrye handel, maar dit moet ’n eerlike metode van handel wees.

Foto – Steven Mnuchin