VSA: Het Prokureur-Generaal leuens vertel?

Gegewens het pas die lig gesien dat die nuut aangestelde prokureur-generaal van die Trump-regering nagelaat het om tydens sy aanstellingsverhoor in die Senaat bekend te maak dat hy verlede jaar twee keer met die Russiese ambassade ’n ontmoeting gehad het.

Die ontmoetings het glo plaasgevind toe die gerugte hoog aangegee is dat Russiese magte inmeng met die verloop van die Amerikaanse presidentsverkiesing.

Prokureur-generaal Jef Sessions het glo volgens ’n berig in die Amerikaanse koerant, Washington Post twee besoeke gebring aan die Russiese ambassade waarvan die eerste besoek in Julie, en die ander een in September plaasgevind het.

Sessions was op daardie stadium ’n senator vir die deelstaat Alabama en een van president Trump se adviseurs gedurende die verkiesingsveldtog.

Die Republikeinse presidentskandidaat wat teen Obama te staan gekom het in die vorige verkiesing, Johan McCain, het vroeër gesê die feit is dat president Vladimir Poetin elke geleentheid sal aangryp as hy kan om tot Rusland se voordeel te gebruik, en het tot hede president Trump se grootste kritikus gebly onder die Republikeine.

Waarnemers meen die besoeke van Sessions aan die ambassade kan lei tot ’n nuwe ondersoek na Russiese betrokkenheid in die presidentsverkiesing.

Tydens die onderhoud in die senaat, het senator Al Franken van die Demokrate aan Jeff Sessions gevra wat sy mening is as iemand met die Russe in verbinding was tydens die verkiesing.  Hierop het Sessions geantwoord dat hy nooit met Russe in verbinding was nie en ook nie bewus is van enige iemand anders wat kontak gemaak het nie.

Die Departement van Justisie se woordvoerder, Sarah Isgur Flores, het egter daarop gewys dat die vraag gerig was tot Jeff Sessions toe hy as adviseur vir Trump opgetree het, en nie as besoeker aan die Russiese ambassade in die hoedanigheid as ’n senator nie.

Foto – Jeff Sessions