Vervaardiging van Brugkaarte

Die materiaal waarop speelkaarte gedruk word, bestaan uit twee dun velle papier wat met ‘n swart gom opmekaar geplak is. Sonder die gom sal die papier nie dienstig wees nie, want as ‘n lamp of die son van agter ‘n speler sou skyn, sal die drukwerk op die kaarte aan die ander spelers vertoon word. Die swart gom maak die kaarte ondeurskynend. Twee volle pakke kaarte word per keer op ‘n groot vel van hierdie gegomde papier gedruk. Die kaarte word een vir een uitgestamp met ‘n skerp matrys, soortgelyk aan ‘n koekiedrukker, teen ongeveer 36 000 kaarte per uur.

Die sny van die kaarte word tot die fynste breuk van ‘n sekond gesinchroniseer. Wanneer die matrys stamp, word die rande spits soos die snykant van ‘n mes gepers, byna onsigbaar vir die blote oog, maar genoeg om dit moontlik te maak dat elke kaart tussen twee ander kaarte kan inglip wanneer dit geskommel word. Dit vertraag ook die uitrafeling van die rande. Probeer jou eie kaarte van dun karton te maak en jy sal dit moeilik vind om die kaarte te skommel omdat die kaarte nie maklik tussen mekaar ingly nie. Die plastieklagie waarmee die kaarte in die fabriek bedek word, help om die kaarte se oppervlaktes te beskerm sowel as om hulle glyerig genoeg te hou om dit maklik te hanteer.

Die fyn werk verg uitsonderlike masjienerie wat vir hierdie doel ontwerp is. Die verfynings van die tradisionele werkswyses word nie openbaar gemaak nie en is van die wêreld se besbewaakte handelsgeheime.

‘n Groot verskeidenheid prente, kentekens en ontwerpe is al op kaarte gedruk. Die onderskeidings en kentekens, dit is skoppens, hartens, ruitens en klawers, was al aangedui met akkers, klokke, blare, diere, voëls, blomme, ensovoorts. Here, vroue en boere was op speelkaarte vervang met soldate, admiraals, generaals, belangrike politieke persone, verpleegsters in Rooi Kruis-uniforms en filmsterre. Pogings is in lande aangewend om die koninklike prente blywend met hul eie helde en legendariese figure te vervang, dog sonder blywende sukses.

Wêreldwyd word skoppens (♠) en klawers (♣) (swart gekleurd) en hartens (♥) en ruitens (♦) (rooi gekleurd) as standaard aanvaar. Hierdie eenvormigheid bring mee dat daar geen verwarring tussen burgers van onderskeie lande en anderstaliges bestaan nie.