Verbascum thapsus / Mullein / Lamstert plant

Verbascum thapsus is so bekend in ons land en ons noem hierdie plant moes Lamstert. Die plant is in die familie Scrophulariaceae en die rang is Lamiales. Dit is inheems in Noord-Afrika en Asië en kom oorspronklik uit Europa.

Verbascum is ‘n harige plant en groei tot 2 meter hoog. Die blare van hierdie plant kom sommer net bokant die grond vanuit die wortelstelsel of wortelknol. Die blare is langwerpig, grys-groen en word groot van onder af en hoe hoër die blare aan die lang stam groei hoe kleiner is hulle.

Lamsterte groei baie goed in Suid Afrika. Dit is geneig om die tuin te oorgroei en ons moet maar gedurig die ouer plante uithaal en weggooi. Die plante haal baie moeilik uit die grond uit indien hulle bietjie ouer en groot is. Hulle is regtig sterk groeiers. In sekere gebiede gaan die plante dormant nadat dit geblom het  en raak dan baie slordig.

Natuurlik dra hulle die pragtigste geel blommetjies al langs die bokant van die lang stingel. Elke plant maak net een stingel en dis is ‘n goeie fokusplant om in die tuin te plant. Die blommetjies is geel en groei dig opmekaar. Plant hierdie plante in enige tipe grond. Hulle groei van saad. Die saad moet in die lente gesaai word. Die saad kan vir jare in die grond lê en dan weer begin ontkiem en groei.

Hierdie plante word medisinaal ook gebruik as ‘n tee wat help met griep en verkoue en sal die hoesbuie ook verlig. Dit sal ook help vir velirritasies indien die vloeistof aan die vel gesmeer kan word. Onthou egter om altyd met u geneesheer te praat indien u enige tipe veldplant, of tuinplant of kruie wil gebruik. Vra maar liewer eers raad oor al die gevare van sekere plante saam met sekere medikasie.

Tuingroete tot volgende keer.