Turkye dreig EU oor immigrante

Na bykans ’n jaar wat Turkye se ooreenkoms met die Europese Unie (EU) oor die inkomende immigrante van krag is, dreig die land om die ooreenkoms op te skort vanweë die EU se weiering om sy ministers toegang te bied.

Verskeie lidlande van die EU het die ministers van Turkye toegang geweier om vergaderings te hou wat ten doel het om die omstrede president Erdogon se mag te vergroot.

Turkye se betrekkinge met Nederland het oornag versleg nadat premier Rutte die Turkse ministers toegang geweier het weens die moeilike omstandighede met die verkiesing wat voorhande was.

Dit het aanleiding gegee dat Turkye alle Nederlandse diplomate verbied het om die land binne te gaan, en het selfs gedreig met handelsboikotte teen Nederland.

President Erdogan se verhouding met Duitsland is ook in troebel waters, en benadeel die land se moontlikhede om in die toekoms lid van die EU te word.

Turkye hou in April ’n referendum om die land se grondwet te wysig sodat president Erdogan se mag uitgebrei kan word.

Turkye is besig om geleidelik weg te beweeg van Europa, en met onlangse gesprekke wat president Erdogan met Vladimir Poetin van Rusland gevoer het, maak die deur oop vir algehele verwydering van die Westerse lande.

Waarnemers is van mening dat ’n opskorting van die ooreenkoms tussen Turkye en die EU tot groter chaos sal lei met die hantering van onwettige immigrante wat eersdaags weer in groot getalle na Europa kan stroom wanneer die somer aanbreek.

Foto – President Erdogan